JOODSE BEGRIP van die Koms van die MESSIAS.

Die Joodse Begrip van die Koms van die Messias.

Kom ons keer terug na die drie vrae van die disippels in Mattheus 24.

Matt. 24:3  En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?

  1. Wanneer gaan hierdie dinge gebeur?
  2. Wat is teken van U Koms? en
  3. Wat is (teken) van voleinding van wêreld?

Die eerste vraag het Lukas opgeteken en het ons reeds vlugtig hanteer. In Mattheus 24 antwoord Jesus die disippels se twee laaste vrae.  Voordat ons die antwoorde bespreek, moet ons eers kyk wat die Jode se begrip of verwagting van die Koms van die Messias was.

Die Ou Testamentiese profete het almal saamgestem oor die gebeure wat sal plaasvind tydens die koms van die Messias.  Die Messias sou kom in’n tyd wanneer die Joodsevolk onder geweldige verdrukking sal staan en dan sal Hy die volk verlos uit die mag van die “Onderdrukker”.  Die Romeinseryk was gedurende die eerste koms van Jesus die “verdrukker” en alles was gereed vir die koms van die verwagte “Verlosser”.

Vir eeue al is die Joodsevolk verdruk deur heidense nasies en het die land Israel nie volkome aan hulle, as volk, behoort nie.  In 722vC is die Noordelikeryk deur die Assirriërs weggevoer en in 586vC, die  Suidelikeryk deur die Babeloniërs.

Daarna het die volk onder die mag gestaan van die Meder-Persieseryk, Griekseryk en ook die huidige Romeinseryk.  Te midde van al hierdie vervolging en ellende het die Jode steeds staatgemaak op hulle toekomstige verlossing.  Die Joodse verwagting en hoop op die toekoms was gegrond op die volgende teksverse:

Jes 9:5 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—  :6 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.

Jes 11:1  Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra;  :2  en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.

Sag 14:1  Kyk, daar kom ‘n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem!  :2  Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie.  :3  En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog ….. :8  En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees ….. :11  En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon.

Dan 2:44  Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan—

Mal 3:1  Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare.

Daar is ook talle ander sulke profesië, wat ons vir die doel van die leesstuk sal laat om tyd te bespaar.

Met die koms van Jesus het die Jode gereed gestaan om hierdie beloftes toe te eien.  Sagaria 14 en Maleagi 3 het Jode twee baie belangrike beloftes gegee dat, dit wat nou in hulle midde besig is om plaas te vind, die vervulling van dardie beloftes is:

  1. Geweldige vervolging voor die koms van die Messias.
  2. Elia-tipe “voorganger” wat die weg vir die Messias gereed sal maak.

Dit was die rede waarom soveel Jode agter Johannes Doper aangeloop het omdat hy homself as die “Wegbereider” bekend gestel het.  Met uitsprake van Jesus dat Hy die “Messias” en “Verlosser” is, het hierdie vervullings vir die Joodsevolk skynbar bewaarheid geword.  Hulle het ongelukkig nie onderskei tussen die twee fases van die Verlosser se Koms nie.

Om terug te kom na die Ou Testamentiese beloftes, moet ons in alle regverdigheid aan die disippels erken, dat die profete ook die Koms van die Messias as een koms gesien het en nie die “kerkdispensasie” of “dispensasie van genade” onderskei het nie.  Hier volg ‘n skematiese voorstelling van die “Bergpieke” van Bybelse profesieë om die gedagte te verduidelik.

Dit is die enigste rede dat die Volk Jesus in Mattheus 21 in die openbaar as Koning aanvaar het, met Sy triomfanklike intog in Jerusalem op die esel – omdat Hy self gesê het, dat Hy die Messias is.

Sag 9:9  Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.

Toe Jesus later praat van sterf, het die verwarde Jode Hom as ‘n “valse Messias” beleef en Hom dus verwerp.  Hulle “Messias” moes nie sterf nie, maar lewe, Koning word en hulle verlos uit die mag van die Romeinseryk.  Hulle begrip van die Messias en Sy werkswyse was beperk. Kom ons kyk na een van sulke beloftes uit die boek Jesaja.

Jes 9:5 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—

GAPING  (+ 2 000jr.)

:6 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.

Selfs na die dood en opstanding van Jesus het die disippels steeds dieselfde verwagting van hulle Messias gehad.

Hand 1:6  Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?  :7  En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;  :8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees …..

Luk 24:21 En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos;  maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit (kruisiging en sterwe van Jesus) al plaasgevind het.

Dit was die algemene verwagting van elke Jood dat die Messias die haglike toestande vir die Volk sou kom verander.

Thomas se ongeloof is ‘n sprekende voorbeeld hiervan – Joh. 20:24-29

Joh 20:24 En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie.  :25 Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.  :26 En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!  :27 Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.  :28 En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God! :29 Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.

Ons kan maklik vir Tomas die “ongelowige” noem en met smaak hom beskuldig van ongeloof en visieloosheid, maar daar was ‘n belangrike rede vir sy optrede.  Die telleurstelling was so groot toe Jesus sterf, nadat almal gelo het dat Hy die verwagte Messias is, dat Tomas se vertroue baie seergekry het.

Nou het Jesus al ‘n geruime tyd, opgestaan uit die dood en weer die verwagting dat iets kan gebeur om die Volk se Verlosser te wees.  Omstandighede word vererger wanneer die ander disippels die boodskap verkondig dat hulle Jesus gesien het, toe Tomas afwesig was en die opleweing dat Hy lewe, maak Tomas skepties om weer na die boodskap luister. Hy wil nie vir ‘n tweede keer terlleurgesteld word nie, daarom glo hy nie en maak die uitlating dat hy sal glo indien hy Jesus sien.

Kom ons keer nou terug na die twee laaste vrae van die disippels:

Matt 24:3 Wat is die teken van U koms en die voleiding van die wêreld?

Twee belangrike woorde is nodig om hier uit te lig – “koms” en “voleinding van die wêreld”

Die oord “parousia” is die Griekse woord, wat  vir “koms” vertaal word en beteken “verskyning, openbring” of “bekend maak”.  Die begrip wat die Jode gehad het van die “koms” het glad nie ‘n terugkeer of tweede koms in gedagte gehad nie, aangesien Hy reeds hier is.  Wat die disippels gevra het, met die gebruik van woord “parousia”, was: “Wanneer gaan U wys (verskyn in die openbaar) wie U werklik is” of: “Wanneer gaan U na vore kom en aan mense Uself vertoon of openbaar”.  Dit sou beteken dat Jesus op die voorgrond moes tree, die Koningskap oorneem en die Volk verlos van Rome.  Onthou steeds dat die begrip “kerk” nog nie geopenbaar is nie en so ook is die begrip “wegraping” ook onbekend en ook nie die “Koms” waarvan gepraat word nie.

Die tweede begrip, “voleinding van wêreld”, verwys na die voltooiing van ‘n aantal beplande gebeure soos deur God bepaal of vasgelê.

Hierdie is die enigste verwysing van die Jode na gebeure in die toekoms, wanneer God alle rebellies en opstand van Satan en die goddelose sal beeindig en sonde totaal sal vernietig.  Jesus se antwoord is die begin van die “openbaring” dat Hy eers moet weggaan en dat daar ’n versteekte en, tot nou toe ’n onbekende, “dispensasie” sal volg wat eers die ander nasies sal bereik en dan sal die einde kom.  Jesus antwoord die vraag baie breedvoerig, aangesien die disippels se  verwagting herrangskik moet word en hulle kennis ook verbreed moet word.

Jesus beskryf dus toestande op die aarde tussen Sy Hemelvaart en Sy “Tweede” Koms of dan “Wederkoms”.